Rotsvas in my Toekoms

Rotsvas in my Toekoms is ‘n loopbaanontwikkelingsprojek wat in 2023 begin is om graad 11-meisies te bemagtig om ingeligte besluite oor hul toekoms te neem. Die oorgang van skool na verdere studie of die werksplek kan vir jongmense uitdagend wees, veral wanneer hulle onseker is oor watter loopbaanrigting om te volg. Die projek wil hierdie onsekerheid help verminder deur leerders aan hul eie potensiaal én ‘n wêreld van loopbaangeleenthede bloot te stel.
Jaarliks word nege graad 11-meisies deur die skool se maatskaplike werker geïdentifiseer om aan die projek deel te neem. Elke deelnemer voltooi die Career Direct-aanlegtoets wat help om haar belangstellings, aanleg en moontlike loopbaanrigtings te verken. Die proses bied waardevolle insig en dien as vertrekpunt vir verdere loopbaanblootstelling.
Die projek gaan egter verder as om leerders bloot aan die beroepe bekend te stel wat met hul aanleg en belangstellings ooreenstem. Deelnemers kry ook die geleentheid om ‘n verskeidenheid ander loopbane te ontdek waaraan hulle moontlik nog nooit gedink het nie. Deur hul horisonne te verbreed, wil ons hulle help om nuwe moontlikhede raak te sien, vrae te vra en met groter selfvertroue oor hul toekoms te begin droom.
Rotsvas in my Toekoms fokus daarop om jong meisies toe te rus met die kennis en insig wat hulle nodig het om hul volgende lewensfase met doelgerigtheid aan te pak. Met blootstelling, selfontdekking en loopbaanverkenning word hulle aangemoedig om hul vermoëns raak te sien, hul moontlikhede te ondersoek en verantwoordelike keuses oor verdere studie en werk te maak.
Ons glo dat elke jong meisie die geleentheid verdien om haar potensiaal te ontdek, haar horisonne te verbreed en met selfvertroue aan ‘n toekoms te bou waarin sy haar plek kan volstaan.


