MY STORIE

Ek was 61 toe ek op pensioen geplaas is. Die eerste paar maande was baie moeilik. Waar ek altyd van hulp kon wees vir die mense saam met wie ek gewerk het, was ek nou voltyds by die huis. My lewe was doelloos.

Ek het by Helpende Hand gaan uitvind of hulle nie iets soos sopkombuise het nie. Ek was by ‘n inligtingsdag gewees waar al die projekte bekendgestel is.

So het ek betrokke geraak by ‘n groep dogters in Elandspoort. Dit was nie ‘n voltydse verantwoordelikheid nie; ek moes slegs een keer per maand tyd saam met hulle spandeer en badkamerprodukte afgee.

Vandag, agt jaar later, hou die dogters my steeds aan die gang en ek het ‘n vol en besige lewe. Weens omstandighede is ek nou die projekleier.

Ons probeer die dogters elke maand ietsie leer of hulle wys daar is ‘n toekoms buite Elandspoort. Ek glo dat ons Vader in beheer is van die projek, want daar kom altyd borge na vore wat bereid is om ‘n praatjie of aktiwiteite aan te bied.

Ek kan ook vandag terugkyk en sien hoeveel my betrokkenheid by die dogters hulle laat groei. Van onseker, half onversorgde dogters na pragtige meisies met selfvertroue en blink ogies.

Ek het nie altyd besef hoeveel die bietjie aandag elke maand vir hulle beteken nie, totdat een van die dogters wat die groep verlaat het, vir my vertel het dat sy nooit my selnommer van haar foon sal afhaal nie.

Hulle moet ook elke maand ‘n dankiesêkaartjie teken vir die borge.’n Rukkie gelede is daar gevra dat die dogters briefies moet skryf oor die pakkies wat hulle elke maand ontvang. Daar was baie dankies in die briefies. Ek glo hulle het dit geleer met die kaartjie wat hulle elke maand moes teken.

Sonder die Helpende Hand-skenkings sou die projek nie moontlik gewees het nie.

Vandag is ek ‘n baie gelukkige en besige pensioenaris. Ek is betrokke by ander Helpende Hand-projekte ook. Die bevrediging wat ek as mens uit hierdie projekte kry, is baie meer werd as enige geld in die wêreld!

Leave a Comment