Seniors in Aksie: ‘n Nuwe lewe vir ons inwoners by Mirtehof
Deur Hannelie van Wyk
By Residentia Mirtehof is die hart van ons werk eenvoudig: om elke inwoner se waardigheid, onafhanklikheid en lewenskwaliteit so lank as moontlik te beskerm. As bestuurder, en iemand wat al meer as tien jaar hier werk, het ek eerstehands gesien hoe belangrik dit is om nie net te sorg nie, maar om te bemagtig.
Ons maak deel uit van die Residentia-groep wat landswyd 13 tehuise bestuur en spesialiseer in die versorging van persone met demensie en Alzheimer. By Mirtehof fokus ons egter spesifiek op selfsorg-inwoners – mense wat nog hul onafhanklikheid geniet, maar steeds ondersteuning en ‘n stimulerende omgewing nodig het.
‘n Fokus op onafhanklikheid en lewenskwaliteit
My persoonlike strewe was nog altyd om ons inwoners so lank as moontlik uit versorgingseenhede te hou. Dit beteken om hulle aktief, betrokke en selfstandig te hou – fisiek, emosioneel en kognitief.
Toe ek Mind Moves en die Seniors in Aksie-program begin implementeer het, het ek besef: Hier is iets besonders.
Hoe ons inwoners se welstand gemeet word
By Mirtehof gebruik ons die DQ98-evaluering om elke inwoner se toestand te monitor. Hierdie assessering word gedoen voor opname en elke drie maande daarna, en dit fokus op:
- fisieke funksionaliteit (mobiliteit, balans, pyn, valrisiko);
- emosionele welstand; en
- kognitiewe vermoëns.
Omdat ek daagliks met ons inwoners werk, kan ek vinnig veranderinge opmerk en sorgplanne betyds aanpas. Dit maak ‘n wesenlike verskil.
Die impak van Seniors in Aksie
Sedert ons die Seniors in Aksie-program, wat deur Solidariteit Helpende Hand ontwikkel is, by Mirtehof aanbied, het ons merkwaardige resultate gesien.
Inwoners ervaar:
- verbeterde emosionele welstand;
- groter selfvertroue in beweging;
- beter mobiliteit;
- deurlopende kognitiewe stimulering; en
- ‘n meer positiewe en opgeruimde ingesteldheid.
Die program speel ook ‘n belangrike rol in herstel ná operasies of val-voorvalle. Dit verminder angs, bevorder fisiese herstel en help om gevoelens van eensaamheid en verveling te bekamp.
Ware stories van hoop en herstel
Die impak van die program word die duidelikste gesien in ons inwoners se persoonlike stories.
Tannie Joey (84) het ná ‘n lang siekbed eers met ‘n loopraam beweeg. Vandag stap sy sonder enige hulp en het selfs deelgeneem aan ons Mev. Mirtehof-skoonheidskompetisie waar sy as tweede prinses gekroon is.
Tannie Tillie (80) het al twee knievervangings gehad, maar loop nou onafhanklik en kan selfs al weer danspassies uitvoer. Sy is uiteindelik as Mev. Mirtehof gekroon.
Hierdie stories wys dat Seniors in Aksie veel meer as fisiese oefening is. Dit herstel selfvertroue, bring vreugde terug en herinner inwoners aan hul eie vermoë.
Meer as net ‘n program
Vir my as bestuurder is hierdie program ‘n waardevolle hulpmiddel. Dit stel my in staat om veranderinge betyds raak te sien, vinnig op te tree en inwoners se algehele welstand doelgerig te ondersteun.
Maar belangriker nog – dit gee ons inwoners iets kosbaars terug:
menswaardigheid, doelgerigtheid en lewenslus.
‘n Opregte dankie
Ek is opreg dankbaar teenoor Solidariteit Helpende Hand vir die geleentheid om opleiding in die Seniors in Aksie-program te ontvang. Die impak daarvan by Mirtehof is onmiskenbaar.
Seniors in Aksie is nie net ‘n toevoeging tot ons sorg nie – dit is ‘n seën.
