Saam bou ons ’n gemeenskap van aanvaarding en insluiting
By Irene Homes glo ons dat ware insluiting vir persone met gestremdhede nie net in daaglikse versorging lê nie, maar ook in die mense wat kies om deel te word van ons gemeenskap.
Deur die betrokkenheid van vrywilligers en betekenisvolle inisiatiewe word ruimtes geskep waar menswaardigheid, vreugde en verbondenheid elke dag sigbaar is. Dit is in hierdie klein, maar betekenisvolle oomblikke waar iets besonders gebeur, waar mense met intellektuele gestremdhede nie net ondersteuning ontvang nie, maar werklik gesien en ingesluit voel.
Inisiatiewe soos ons sensoriese tuin, moontlik gemaak deur die ondersteuning van Solidariteit Helpende Hand se Groter Centurion-streek, asook spesiale besoeke en aktiwiteite, bring ’n nuwe dimensie van belewenis na Irene Homes. Dit skep geleenthede vir ons inwoners om op ’n ander manier met hul omgewing en met ander mense te skakel, op ’n wyse wat rustigheid, selfregulering en betekenis bring.
’n Besoek van Braaf die Boerboel het byvoorbeeld nie net glimlagte gebring nie, maar ook ’n belangrike boodskap oorgedra oor hoe om jouself teen ’n boelie te beskerm en waarom dit belangrik is om mekaar met respek te hanteer. Sulke inisiatiewe help ons inwoners en dagwerkers met belangrike lewensvaardighede.
Die ware waarde lê egter nie net in die aktiwiteite self nie, maar in die harte van die mense wat hul tyd, energie en omgee deel.
Elke bydrae dra by tot ’n gevoel van insluiting, aanvaarding en menswaardigheid. Dit is die boustene van ’n ondersteunende gemeenskap.
By Irene Homes is ons opreg dankbaar vir elke persoon wat saam met ons hierdie pad stap. Julle persoonlike betrokkenheid maak dit moontlik om ’n omgewing te skep waar almal ingesluit kan word.
Saam bou ons ’n gemeenskap waar elkeen aanvaar word en opregte verbintenis kan ervaar, ongeag ’n gestremdheid of nie.
